Gebedsliturgieë reeds in vier tale beskikbaar – Afrikaans, Sotho, Tswana, Xhosa
Welkom by die Seisoen van Menswaardigheid!
Die doel van hierdie seisoen is niks minder nie as die hernuwing van die gesig van Suid-Afrika deur die genesende krag van God wat die menswaardigheid van elke mens herstel.
Omdat dit God se werk is, moet ons begin met gebed. Slegs God kan reik tot in die harte van mense en diepliggende verandering bring. Ons moet tot God roep om dit te doen.
Hierdie boekie is ontwerp om individue, maar veral ook groepe getroue volgelinge van Jesus Christus, te help om juis dit te doen. Ons bied nederig ’n stel gebedsliturgieë vir gebruik wanneer verskillende groepe in die kerk bymekaarkom.
Hierdie liturgieë is nie riglyne vir kleingroepbyeenkomste as sodanig nie, maar kan gebruik word as openingsgebede vir allerhande soorte evangeliebedieningsbyeenkomste, kerkrade, kerkpersoneel, strategiese-beplanningsessies en, ja, klein groepe. Liturgieë vir jeugbyeenkomste, leierskapvergaderings, asook byeenkomste waar slegs mans of slegs vroue teenwoordig is, is ook ingesluit.
Die vier waardes van die Seisoen van Menswaardigheid – respekteer, luister, omarm en liefhê – voorsien die temas vir die gebedsliturgieë. Ons beveel aan dat ’n verskillende liturgie gebruik word elke keer dat ’n spesifieke groep vergader en verkieslik in die volgorde wat dit in die boekie aangebied word.
Ons stel voor dat vier kerse gebruik word wanneer die liturgieë tydens opeenvolgende geleenthede gebruik word. Steek een kers aan wanneer die gebedsliturgie oor respek gebruik word. Steek ’n tweede kers aan, terwyl die eerste een reeds brand, wanneer die tweede liturgie gebruik word – die een vir luister, ensovoorts.
Hoewel die gebedsliturgieë ontwerp is om as ’n verenigde geheel gebruik te word, staan dit jou vry om ’n “knip en plak”- benadering te gebruik indien die situasie dit vereis. Indien die liturgieë wat hier aangebied word jou liturgiese verbeelding stimuleer, staan dit jou vry om aan te pas en te verander.
Die liturgieë is bedoel om alle deelnemers te betrek. Die konvensie in hierdie gids is deurgaans dat die teks wat in skuinsdruk aangebied word, bedoel is om saam gesê te word.
Elke liturgie bestaan uit drie bewegings: ontvang, deel en gee en toewyding. Wat ons van God ontvang, deel ons onder mekaar en gee weg aan ander. Jy sal dalk elke vergadering of byeenkoms met die eerste twee bewegings wil begin en met die derde wil afsluit.
Fred Schoeman (redakteur)
Andries Hoffman
Elize Morkel
Tipi Jacob Nthakhe
Cas Wepener
Trackback from your site.