BOEKWINKEL AMPTELIK GEOPEN
Op 22 Junie 2017 is Christelike Lektuurfonds se boekwinkel te Tweetoringkerk, Bloemfontein amptelik geopen. Dit was ʼn voorreg om hierdie heerlike geselligheid te geniet saam met die predikante, outeurs, verskaffers, gemeentes en ander CLF-vriende wat op welke wyse ʼn bydrae tot ons organisasie maak. Die kwinksinnige sprekers, dr Gideon van der Watt, dr Barend Vos en ds De la Harpe le Roux het die gehoor op ʼn boeiende en insiggewende reis geneem: van CLF se ontstaan in Bloemfontein en die historiese bande met Tweetoringkerk, tot by vandag en die visie om ons Christelike inhoud (boeke en pamflette) meer toeganklik te maak vir alle Suid-Afrikaners.
Een van die hoogtepunte van die geleentheid was gewis die boekvoorlesing deur dr Barend Vos vanuit sy pragpublikasie Seisoene van Genade – ʼn opdragwerk ter viering van CLF se sestigste bestaansjaar met sestig kosbare oordenkings oor die seisoene van die kerkjaar. Benewens die voorlesing het hy ook uitgebrei oor die totstandkoming van die bundel, die troos en verdieping wat die kerkjaar inhou vir gelowiges asook sy belewenis van die skryfproses.
Na afloop van die verrigtinge is daar nog hartverwarmend saam gekuier en gesmul aan die peuselhappies en drinkgoed wat bedien is. Dit is duidelik dat CLF ʼn tuiste in Bloemfontein gevind het en ons sien uit om saam met die Vrystaat en omliggende dele, ligdraers te wees van God se genade.
Ons nooi elkeen van CLF se ondersteuners wat in die sentrale dele van Suid-Afrika woon, met vrymoedigheid uit om ons boekwinkel te besoek te 37 Henrystraat, Bloemfontein. Daar is ruim, veilige parkering binne die kerkgronde beskikbaar en Tweetoringkerk se koffiekroeg-fasiliteit bied verversings in dieselfde ruimte. Skakel gerus Christelike Lektuurfonds se vriendelike winkelbestuurder, Hettie Ackermann, vir meer inligting by 073 8772 358.