Rassisme en Menswaardigheid
Die reënboognasie sukkel steeds met kleur. Gesonde rasseverhoudinge in Suid-Afrika is steeds uiters sensitief vir enige aksie wat op rassisme neerkom of so verstaan kan word. Dit is daarom noodsaaklik dat rassistiese optrede deur wie ook al wat die menswaardigheid van mense in die Bybelse sin van die woord aantas, veroordeel en uitgeroei word.
In ons elkeen se eie kontekste moet ons soek na maniere om rassisme positief te omvorm na die droom van “een, heilige, algemene, Christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges” wat in die Apostoliese Geloofsbelydenis verwoord is.
Dié eenheid moet die grense van ras, kleur, etnisiteit en kultuur transendeer om ’n ware reënbooggemeenskap na die beeld van God te vorm.
Die tydskryf Kruisgewys het reeds in 2008, dié jaar waarin ons soveel xenofobie ervaar het, gefokus op artikels wat kan koers gee aan die droom van ’n multi-kulturele kerk.
Laai Kruisgewys 2008/3 – Rassisme hier af en kry koers na multi-kulturaliteit in jou eie konteks. Jy sal daar onder ander die volgende artikels kan lees:
- Piet Naudé – Teen-rassisme vra ‘n nuwe, Christelike bril – verduidelik hoe in die Imago Dei teologie rassisme geen plek het nie.
- Jurgens Hendriks – Wees oop vir die Ephesian moment – skryf oor die sending-historiese perspektief van Andrew Walls. Hy wys daarop dat die kerk in wese ’n beweging is wat die grense van ras en kultuur oorsteek.
- Kobus Schoeman – ‘Sunday morning at eleven the week’s most segregated hour’ – belig dié stelling van Martin Luther King Jr oor die Amerikaanse kerk. Met perspektiewe uit die navorsing van Kerkspieël 2006 besin hy oor die situasie in die NG Kerk.
- Leon Marais – Kovsies opgewonde oor Sigh Melaletsa – skryf oor sy onderhoud met Sigh Melaletsa, wat in 2008 beroep is as studenteleraar by die Studentegemeente op die kampus
van die Universiteit Vrystaat. - Danie Mouton – Ghanese prediker se onwaarskynlike middestadvennoot – skryf oor sy gesprek met Robert Bagna, ’n Ghanese pastor wat in die middestad van PE met ’n bediening begin het. Die interessante van die beginjare daarvan is dat die eerste lidmate witmense was!
- Piet Delport – Rassisme: ’n Lidmaat se perspektief – skryf oor die rassisme wat in die meeste van ons teenwoordig is. Dit kan egter weerstaan word deur dit enersyds te erken en andersyds iets daaraan te doen, veral deur oor rasgrense uit te reik.
Onthou ook die Kruisgewys oor Menswaardigheid van 2013 wat ook artikels oor rassisme bevat het. Jy kan Kruisgewys Maart 2013 – Menswaardigheid hier aflaai. Dit bevat onder ander die volgende artikels:
- Nico Koopman skryf in Die Heilige Gees help rassisme oorwin dat ons rassisme na behore in terme van houdings, samelewingstrukture en godsdienstige beskouings
- Pieter Grove maak in Menswaardigheid en armoede ons deeglik bewus van die kompleksiteit van armoede en die verweefdheid daarvan met ander samelewingsfaktore.
- Llewellyn McMaster bespreek in Geweld en xenofobie die kultuur van geweld waarin horisontale sosiale verhoudings en interaksie baie keer deur gewelddadige, eerder as nie-gewelddadige metodes, beheer word.
- Gerrit Brand werk in Kultuurverskeidenheid en menswaardigheid met die belangrike vertrekpunt dat mense eers deur ander mense méns is. Daarom kan hulle waardigheid, dit wil sê hulle verhouding met God en die lewe waarvoor hulle bestem is, nooit los van hulle verhouding en interaksie met ander mense gesien word nie.